top of page

Assessering in LO

1) Projekte

 

Die projek sal 'n werkstuk wees waarin kennis, vaardighede en waardes gedemonstreer word, wat sal lei tot bevoegdheid in die spesifieke of geïntegreerde inhoud. Die taak behels die versameling, ontleding en/of evaluering van data en inligting wat sal lei tot die sintetisering van die bevindinge in 'n skriftelike produk waaroor verslag gedoen, gemodelleer of deur die leerders uitgevoer kan word. Leerders sal ook data/hulpbronne/inligting versamel buite die kontaktyd om die taak uit te voer. Die voltooiing van die projek word deur die onderwyser gedurende klastyd gefasiliteer om die geldigheid van die produk te verseker.

 

Die onderwerp en aard van die projek sal bepaal word deur die inhoud wat in die jaarlikse onderrigplan gedek moet word. Leerders moet genoeg tyd gegun word om die projek te voltooi. Leerders behoort vanaf die aanvang voldoende leiding gegee te word en vordering behoort deurgaans gemonitor te word. Alle toepaslike assesseringskriteria moet met die leerders bespreek word voordat daar met die projek begin word. Leerders moet genoeg tyd gegun word om die projek te voltooi, daarom behoort dit voor die einde van die tweede kwartaal gegee te word sodat dit gedurende die derde kwartaal ingehandig kan word

2) Ontwerp en vervaarding

 

Dit behels die ontwerp en skep van die werklike produk deur gebruik te maak van skeppende prosesse om 'n sekere bevoegdheid te bereik. Die skep van 'n voorwerp is die eindproduk van 'n ontwerp. Daar word van die leerders verwag om te ontwerp, te skep en beskrywende paragraaf/paragrawe oor die taak te skryf. Leerders moet begrip toon van die kennis wat verwerf is, asook die toepassing van die kennis en vaardighede. Die fokus sal bepaal word deur die inhoud wat in die jaarlikse onderrigplan gedek word. Die onderwyser voorsien die leerders van hulpbronne en inligting wat benodig word om die taak te voltooi. Alle assesseringskriteria wat op die taak van toepassing is moet vooraf met die leerders bespreek word.

 

Voorbeelde:

 

  • Maak 'n plakskildery (collage) of 'n plakkaat wat jou eie persoonlike dieet beskryf met verwysing na jou eetgewoontes en voedingswaarde. Skryf een tot twee paragrawe wat jou eetgewoontes beskryf en hoe om slegte gewoontes te verbeter of goeie gewoontes vol te hou.

 

  • Ontwerp 'n plakkaat deur prente, foto’s en tekeninge te gebruik wat jou doelwitte weerspieël in verhouding tot jou persoonlike lewenstyl en toekomstige loopbaan. Skryf kort aantekeninge en heg 'n plan aan wat sal beskryf hoe jy jou doelwitte sal bereik.

3) Geskrewe take / werkopdragte

4) Praktiese  demonstrasies 

  • Werkstuk

 

Die werkstuk laat 'n meer holistiese assessering van kennis, vaardighede en waardes toe en die toepassing daarvan in verskillende kontekste. Die werkstuk is nie so oop soos 'n projek nie en daar word nie van die leerders verwag om data en inligting te versamel, te analiseer en/of te evalueer met die doel om dit te sintetiseer nie. Die werksopdrag is 'n oefening met duidelike riglyne en 'n spesifieke lengte waarin probleme opgelos word en/of besluitneming en die toepassing van kennis gedoen word. Die fokus sal bepaal word deur die inhoud wat gedek is volgens die jaarlikse onderrigplan. Die onderwyser voorsien die hulpbronne en inligting aan die leerders wat hulle gaan benodig om die taak te voltooi. Alle toepaslike kriteria moet met die leerders bespreek word voordat die taak begin word.

 

 

  • Gevallestudie

 

'n Gevallestudie behels 'n gedetailleerde beskrywing van 'n spesifieke situasie of verskynsel. Dit kan 'n werklike of hipotetiese beskrywing wees en dit kan uit 'n boek, koerant, tydskrif, video of die radio geneem wees. Die gevallestudie sal die onderwyser in staat stel om te bepaal of die leerders die kennis, vaardighede en waardes in 'n onbekende konteks kan toepas. Die fokus sal bepaal word deur die inhoud wat in die jaarlikse onderrigplan gedek moet word. Die onderwyser voorsien die leerders van hulpbronne en inligting wat benodig word om die taak te voltooi. Alle toepaslike kriteria moet met die leerders bespreek word voordat hulle met die taak begin.

 

  • Toets

 

Toetse bestaan gewoonlik uit 'n reeks vrae. Daar word van die leerders verwag om in 'n bepaalde tyd op die vrae te reageer. Vrae is nuttig om kennis weer te gee en begrip te toets. Indien die vrae korrek gefraseer is, kan ditook die toepassing van kennis toets. Omdat toetse maklik is om te merk, is dit 'n goeie manier om 'n summatiewe assessering uit te voer en dit is dus ook 'n nuttige formatiewe instrument.

 

  • Eksamens

 

Eksamens van ten minste 60 minute elk sal twee keer per jaar as deel van die interne eksamenrooster van die skool/distrik/provinsie uitmaak. Die eksamen sal die inhoud, kennis en vaardighede wat tot die tyd van die eksamen gedek is, omvattend aanspreek. Meer as een tipe vraagstelling behoort ingesluit te word en fokus veral op die toepassing van kennis op 'n geïntegreerde manier. Die halfjaareksamen sal kwartaal 1 en 2 se inhoud dek, terwyl die jaareindeksamen die hele jaar se werk sal dek.

Liggaamsopvoeding (LO) se doel is om die leerders se fisiese welsyn en die kennis van beweging en veiligheid te ontwikkel. Dit moedig leerders aan om aan 'n wye verskeidenheid aktiwiteite deel te neem wat met die ontwikkeling van 'n aktiewe en gesonde leefwyse vereenselwig word. LO het dit ook ten doel om leerders se selfvertroue en algemene vaardighede, veral dié wat met samewerking, kommunikasie, kreatiwiteit, kritiese denke en estetiese waardering gepaardgaan, te ontwikkel. Dit, saam met die kweek van positiewe waardes en houdings in Liggaamsopvoeding, voorsien 'n goeie grondslag vir leerders se lewenslange en -omvangryke leer.

 

Alle Liggaamsopvoedingperiodes sal op praktiese, fisiese-, en massadeelname aan bewegingsaktiwiteite vir genot en verrykingsdoeleindes fokus. Die doel is om leerders aan te moedig om hulself te verbind tot - en betrokke te raak by - gereelde fisiese aktiwiteit as deel van hul leefwyse.

 

Die LOT word gedurende al vier die skoolkwartale in Graad 7-9 gedoen. Daar word van leerders verwag om een keer per week aan die Liggaamsopvoedingperiode deel te neem wat 'n vaste periode op die rooster is. Dit staan ook bekend as Liggaamsopvoeding. Leerderdeelname en uitvoering van bewegings in die LOT sal dus geassesseer word en aan die einde van elke kwartaal sal daaroor verslag gedoen word. Die vakadviseur sal die LOT modereer tydens aangekondigde skoolbesoeke, deur die leerders waar te neem terwyl hulle besig is met die uitvoering van die werklike assesseringstaak.

 

Die fokus van die assessering van die LOT word in twee breë kategorieë verdeel:

 

  • Deelname: Leerders word blootgestel aan die besef van die waarde van gereelde deelname aan fisiese aktiwiteit. Deelname behoort verdere ontwikkeling, genot en die bou van selfvertroue aan te moedig.

 

  • Uitvoering van bewegings: Leerders word geassesseer op die vlak waarop hulle in staat is om te presteer. Uitvoering van bewegings behoort nie 'n gevoel van kompetisie aan te moedig nie.

 

Die onderwyser sal waarneem of die uitvoering van die beweging  die  gewenste  uitkoms  het  wat  op  die algehele  uitvoering  van  die  beweging  fokus  eerder  as  op  die  gedetailleerde  meganismes  van elke  beweging. Sodra die onderwyser egter vertroue opgebou het en weet hoe om die motoriese vaardigheid af te breek en die bewegingsvolgorde in verskillende dele op te breek, kan addisionele kriteria bygevoeg word om die uitvoering in groter diepte te assesseer.

bottom of page